Die oorsprong van die Maan word gewoonlik verduidelik aan die hand van 'n liggaam omtrent so groot soos Mars wat die Aarde getref en 'n puinskyf gevorm het wat eindelik een natuurlike satelliet, die Maan, geword het. Daar is egter 'n paar variasies op die reusebotsingshipotese, sowel as alternatiewe verduidelikings, en navorsing duur voort om uit te vind presies hoe die Maan gevorm het.[1][2] Ander voorgestelde scenarios sluit in 'n liggaam wat deur die Aarde aangetrek is, die hipotese dat hulle saam gevorm het, botsings deur planetesimale en ander botsingsteorieë.[3]
Die standaardhipotese, die reusebotsingshipotese, stel voor 'n Marsgrootteliggaam met die naam Theia het teen die Aarde gebots en 'n groot puinskyf gevorm wat toe saamgesmelt het om die Maan te vorm. Dié botsing het gelei tot die Aarde se draaias wat teen 23,5° oorgehel is en die seisoene veroorsaak.[1]
Dit lyk of die Maan se suurstofisotoopverhoudings presies dieselfde as die Aarde s'n is.[4] Dié verhoudings, wat baie presies gemeet kan word, is uniek vir elke liggaam van die Sonnestelsel.[5] As Theia 'n aparte protoplaneet was, sou dit en die uitgewerpte materiaal moontlik ander suurstofisotoopverhoudings as die Aarde gehad het.[6]
Ook is die Maan se titaanisotoopverhoudings (50Ti / 47Ti) so naby aan die Aarde s'n (minder as 4 dele per miljoen) dat geen of baie min van die botsende liggaam se materiaal deel van die Maan kon geword het.[7]